
Wanneer ek bobotie maak, ruik my hele kombuis na kerrie en borrie, en is ek dadelik terug by my ouma.
Bobotie is een van die oudste geregte uit die Kaapse kombuis: gekruide maalvleis, gaar gemaak onder ’n sagte laag eiers en melk. Dit het aan die Kaap ontstaan, waar die kookkuns van Nederlandse setlaars saamgekom het met die speserye en kennis van slaafgemaakte en vrye mense uit die Ooste, die gemeenskap wat ons vandag as die Kaapse Maleiers ken, wat deur die speseryhandel in die 17de eeu na die Kaap gebring is. Waar die naam presies vandaan kom is nie seker nie, heel waarskynlik van die Maleise woord vir speserye, boemboe, of van die Indonesiese gereg bobotok. Wat wel vasstaan, is hoe ingeburger dit toe al was: Kaapse boedelinventarisse uit die 18de en vroeë 19de eeu noem spesiale bobotieskottels, waaronder ’n yster ‘bobotiepan’ uit 1816. Tradisioneel word dit bedien met geelrys, blatjang en piesangskyfies.

Vir my is bobotie veral ’n herinnering aan my ouma. Sy het dit altyd gemaak wanneer die kleinkinders kom kuier het, en die reuk het al deur die huis getrek voor ons behoorlik binne was. Ons het as kinders nie van rosyne gehou nie, so sy het dit sommer uitgelaat, sonder om ooit ’n ding daarvan te maak. Dit doen ek nou nog so in my eie kombuis.
Daardie warmte, daardie gevoel van welkom aan haar tafel, is presies wat ek met elke bobotie van Suikerbekkie Keuken wil deel. Ek verkoop dit gevries, so by die huis hoef jy dit net op te warm en aan tafel te gaan sit.
Bestel jou eie bobotie.
Na die spyskaart →