
Daar staan ’n blik in byna elke Suid-Afrikaanse huis. Groot, altyd vol, en meestal iewers in die kombuis binne handbereik. By ons was die beskuitblik deel van ’n vaste ritueel, en dié ritueel was die Sondagoggend.
My broer, my sussie en ek het ’n taak gehad: koffie maak vir die hele gesin. Nog in ons piesjamas, half vaak, maar met baie pligsgevoel, want dit was ons werk. Ons het die koffie gemaak, die blik van sy plek gaan haal, en dan saam daarmee na my ouers se slaapkamer geloop.
Daar, op hulle bed, met kussings orals en die blik iewers in die middel, het ons koffie gedrink en beskuit geëet terwyl ons bespreek het wat die dag, of die week, sou bring. Geen haas nie, geen selfone nie, net vyf mense, warm koffie en genoeg beskuit vir almal.
Ek dink gereeld aan daai oggende terug. Aan die geluid van die blik wat oopgaan, aan wie eerste kon kies, aan my ma wat altyd gesê het daar’s nog genoeg in terwyl die blik lankal amper leeg was. Dis die gevoel wat ek wil deel met elke pak beskuit wat by Suikerbekkie Keuken se deur uitgaan: nie net ’n lekkerny nie, maar ’n verskoning om saam te gaan sit.
Dus as jy ons beskuit koop, my raad: maak ’n pot koffie, gaan sit lekker, en neem jou tyd. So hoort dit.